Die Sendingopdrag
Daarom is die Sendingopdrag in Mt 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Nou moet ons let daarop dat dit die Griekse woord ‘ethnos’ is wat hier met ‘nasies’ vertaal is. Die presiese betekenis van die woord ‘ethnos’ is: ‘nie-Israelitiese volke’, of ‘heidense volke’. Dit is dus etniese volke – nie net ‘n ‘geestelike’ volk nie. Dit is ook dieselfde woord wat Jesus gebruik in Mt 21 waarna ons hierbo verwys het, toe Hy gesê het die verantwoordelikheid word van die Jode weggeneem en aan ander ‘ethnos’ gegee.
In Handelinge lees ons uitvoerig dat die evangelie aan die ‘heidene’ bedien word. Maar elke keer wat die woord ‘heidene’ in Handelinge genoem word, is die Griekse woord ‘ethnos’. Die bedoeling is dus nie soseer ‘heidene as ‘n massa individue’ nie, maar inderdaad ‘heidense volke’.
In Hand 15:13-18 lees ons dan ook hoedat God van die begin af uitgesien het daarna om die ‘vervalle hut van Dawid’ te herstel met “al die volke (ethnos) waaroor sy Naam uitgeroep is”.
Wat is die ‘hut van Dawid’? Dit is die Koninkryk van God op aarde – soos Jesus ook verduidelik in Mt 21 wat ons hierbo aanhaal.
Dit is die Verbondsopdrag wat oorspronklik net aan Israel gegee is, maar nou aan ‘ethnos’: nie-Israelitiese, heidense volke opgedra word.